November 21, 2008 by padkos
Jesus, ek weet nie watter traumas in
my vriendin opgehoop het nie,
maar U weet als.
Ek hoor haar swyg; U hoor haar pleit.
Ek sien haar glimlag; U sien haar trane en angs.
Ek sien wat sy gee; U weet waarvan sy beroof is.
Ek ken haar standvastigheid; U ken haar gebrokenheid.
Ek sien haar skoon klere; U ken elke litteken in haar siel.
Ek beleef haar geloof; U ken haar twyfel.
Ek bring haar met hierdie gebed tot voor U troon en vra :
Here, gee vir haar alles wat sy nodig het,
‘n sekerheid dat U by haar is.
Amen
Posted in Uncategorized | Leave a Comment »
November 19, 2008 by padkos
Ek drink koffie saam met ‘n vriendin wat ek baie lank laas gesien het. Oor reusagtige stukke kaaskoek vang ons op en klets oor alles en nog wat. Die kaaskoek sit my egter ore aan – deels omdat elke stuk genoeg is vir 3 mense en deels omdat dit ‘n lekkerte is wat ek myself nie te dikwels gun nie a.g.v. die ongenadigheid daarvan op die heupe.
Ek vra vir ‘n doggybag want dis darem nie ‘n ding wat ‘n mens kan mors nie !
Op pad huis toe stop ek by ‘n robot en maak half ingedagte die boksie oop. Sommer so met die wysvinger maak ek ‘n duikie in die stukkie hemel en lek stadig en behaaglik my vinger af…. Kan maar net sowel nog ‘n duikie maak en ek maak dan ook so. Terwyl ek vir ‘n derde maal weer my vinger lekker staaadig aflek kyk ek terloops op in die starende ek-glo-nie-wat-ek-sien-nie oë van die man in die kar langs my. Hy kyk vinnig weg asof hy nie my moment beleef het nie en ek is besonder dankbaar vir die groen lig.
Needless to say maats, ek was tog ‘n bietjie verleë, but it was SO worth-it !
Die van julle wat ‘n ou kaaskoekie kan waardeer, sal verstaan.
Groetnis
PS: Kan nie help om te wonder hoe hy die storie gaan oorvertel nie….
Posted in Uncategorized | 2 Comments »
November 17, 2008 by padkos
My jongste het die naweek sy duik kursus gedoen. Hy begin Vrydag middag met teorie en is glad nie lus “om te gaan leer nie – dis dan naweek”. Die problem is : hy WIL duik. Karring al vandat hy 11 jaar oud is aan ons. Hy wil net nie die kursus doen nie. Ek verduidelik hoekom dit nodig is maar, die jaar was lank, die eksamen lê voor en hy staan elke oggend om 04h45 op om te gaan oefen (maar dis ‘n ander storie vir ‘n ander dag). So, naweke is serious rus-tyd !
Vrydag aand kry ek hom, al brommende, ná die klas. Hy het huiswerk om te doen en hy is nie lus nie. Op pad huis toe kry ek my prekie in. Ek veduidelik hoe bevoorreg hy is en dat daar baie ander mense is wat vanaand in sy skoene (of liewer finns) sou wou staan.
Saterdag oggend is dit weer teorie en teen 12h00 is ons swembad toe vir die praktiese deel van die kursus. Gewapen met ‘n lekker boek en ‘n koelerboksie vol Woollies snackies, sien ek uit na ‘n luilekker middag. Hy lyk sommer heelwat vroliker en geniet die nuwe ervaring.
Ek lê op ‘n handdoek in die son en lees. Om my is groepies voornemende duikers besig om op te kit, ‘n gesinnetjie braai vleis onder ‘n groot koelteboom, twee kleintjies waggel op vet beentjies in piepklein kostjimpies rond….
Ek beleef skielik ‘n emosie van volslae dankbaarheid. Hoe gelukkig is ons nie ? Ja, ek het ook probleme. Elke dag. Maar nou lê ek in die son en braai met my boek en my koelerboksie en my kind leer duik en daar is totale vrede in en om my. Maar êrens in die wêreld is mense besig om dood te gaan van die honger, ander beleef groter hartseer as wat ek en jy dalk kan verstaan en kry bitter, bitter swaar.
Ek het nog altyd, sovêr dit in my vermoë is, soveel moontlik vir ander probeer doen. Ek leer my kinders om empatie met ander te hê. Tog kou daar nou al vir ‘n geruime tyd ‘n ding hier aan my binnekant. Daar moet iets meer wees wat ek kan doen. Ek neem ‘n wilsbesluit om oor die volgende paar maande meer betrokke te raak. Terwyl ek hier sit en skryf is ek nog steeds nie presies seker hoe nie, maar ek weet net ek moet.
Ek hou julle op hoogte….
Posted in Uncategorized | Tagged betrokke, bevoorreg, Children, diving, duik, Kinders | 3 Comments »
November 16, 2008 by padkos
Blogging….nie noodwendig vir my ‘n vreemde woord nie, maar wel ‘n totaal onbekende konsep. Ek waag nie maklik op onbekende terreine nie en ignoreer dus die onderwerp. Op ‘n onverwagse oomblik ontmoet ek ‘n interessante vrou wat my vertel van haar blog. Ek het geen idee waarvan sy praat nie, maar probeer hard om nie na ‘n totale idioot te lyk nie. Die volgende dag gaan loer ek uit nuutgevonde nuuskierigheid in op haar blog en net daar byt die gogga…. Ek het ‘n paar dae gelede hierdie blog oopgemaak en ek kan eenvoudig nie genoeg kry daarvan nie. My ou bloggie is nog in sy baba-skoentjies, want ek het soooo baie om te leer, maar ek geniet elke oomblik daarvan !
Posted in Uncategorized | Tagged Hallo | 1 Kommentaar »