November 17, 2008 by padkos
My jongste het die naweek sy duik kursus gedoen. Hy begin Vrydag middag met teorie en is glad nie lus “om te gaan leer nie – dis dan naweek”. Die problem is : hy WIL duik. Karring al vandat hy 11 jaar oud is aan ons. Hy wil net nie die kursus doen nie. Ek verduidelik hoekom dit nodig is maar, die jaar was lank, die eksamen lê voor en hy staan elke oggend om 04h45 op om te gaan oefen (maar dis ‘n ander storie vir ‘n ander dag). So, naweke is serious rus-tyd !
Vrydag aand kry ek hom, al brommende, ná die klas. Hy het huiswerk om te doen en hy is nie lus nie. Op pad huis toe kry ek my prekie in. Ek veduidelik hoe bevoorreg hy is en dat daar baie ander mense is wat vanaand in sy skoene (of liewer finns) sou wou staan.
Saterdag oggend is dit weer teorie en teen 12h00 is ons swembad toe vir die praktiese deel van die kursus. Gewapen met ‘n lekker boek en ‘n koelerboksie vol Woollies snackies, sien ek uit na ‘n luilekker middag. Hy lyk sommer heelwat vroliker en geniet die nuwe ervaring.
Ek lê op ‘n handdoek in die son en lees. Om my is groepies voornemende duikers besig om op te kit, ‘n gesinnetjie braai vleis onder ‘n groot koelteboom, twee kleintjies waggel op vet beentjies in piepklein kostjimpies rond….
Ek beleef skielik ‘n emosie van volslae dankbaarheid. Hoe gelukkig is ons nie ? Ja, ek het ook probleme. Elke dag. Maar nou lê ek in die son en braai met my boek en my koelerboksie en my kind leer duik en daar is totale vrede in en om my. Maar êrens in die wêreld is mense besig om dood te gaan van die honger, ander beleef groter hartseer as wat ek en jy dalk kan verstaan en kry bitter, bitter swaar.
Ek het nog altyd, sovêr dit in my vermoë is, soveel moontlik vir ander probeer doen. Ek leer my kinders om empatie met ander te hê. Tog kou daar nou al vir ‘n geruime tyd ‘n ding hier aan my binnekant. Daar moet iets meer wees wat ek kan doen. Ek neem ‘n wilsbesluit om oor die volgende paar maande meer betrokke te raak. Terwyl ek hier sit en skryf is ek nog steeds nie presies seker hoe nie, maar ek weet net ek moet.
Ek hou julle op hoogte….